top of page
Untitled design (42).png

Laerskool Proteapark 

proteaparkinhuldiging20apr-110.jpg


 

SKOOLLIED

By skadu’s van berg en wilde boom

verrys ‘n skool soos in ‘n droom.

Ons leer, ons werk, ons speel tesaam

Proteapark dit is ons naam.

 

Ons land se blom is ons simbool

ons vreugd' en trots, dit is ons skool,

ons hoop op God en bid tesaam

volhardend op die lewensbaan.

 

Blou, geel en rooi ons klim na bo

ons plig te doen omdat ons glo …

vervul jou roeping waar jy gaan

Proteapark dit is ons naam.

PP23s027 (1).jpg

Boodskap van die Hoof

 

Baie welkom by Laerskool Proteapark se amptelike webtuiste. Ons wil u graag ‘n kykie gee in die lewens van ons Parkies…

Laerskool Proteapark is geleë in die pragtige woonbuurt Protea Park in die dorp Rustenburg in Noordwes. Proteapark is ‘n enkelmedium Afrikaanse skool wat onderrig bied aan graad R tot 7-leerders. Ons as Parkies skroom nie om te erken dat die Here die ereplek by ons skool beklee nie; en om hierdie rede word die daaglikse uitleef van morele waardes hoog aangeskryf.

Die Parkies vorm een groot familie waar onderwysers, ouers, vennote en die gemeenskap hande vat om ons leerders te leer droom. Ons almal is hier om die kinders ten volle te ondersteun om hulle drome ‘n werklikheid te maak!

Proteapark staan bekend as “Die skool waar elke kind tel.” Hierdie slagspreuk word geregverdig deur die feit dat leerdertalle per klas laag gehou word, en dat meeste onderwysers die hulp van ‘n student-onderwyser as assistent tot hulle beskikking het. Só kry elke leerder talle geleenthede om sy/haar volle potensiaal te bereik.

Elke onderwyser word met die hand uitgekies en hierdie hardwerkende, goed-opgeleide personeel is bereid om keer op keer die ekstra myl te loop.

Voltydse terapeute maak ook seker dat daar omgesien word na die welsyn van elke leerder en sy/haar ouers.

Die holistiese aanslag by ons skool verseker dat daar ‘n groot verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite aangebied word om elke leerder genoegsame geleentheid te bied tot deelname, blootstelling en prestasie op akademiese-, sport- en kultuurvlak. Ons skool spog dan ook jaarliks met prestasies op provinsiale en nasionale vlak.

Verder is die skool se fasiliteite van hoogstaande gehalte. Die klaskamers is toegerus met die beste en nuutste tegnologie wat die onderrigproses optimaliseer; en die pragtige terrein is waarlik ons trots!

Laerskool Proteapark is beslis die skool om te kies indien u as ouer u kind wil laat opgroei in ‘n veilige omgewing, sonder onnodige druk en met genoegsame blootstellling. Hiér kan elke kind sy/haar gawes en talente ontdek wat as fondament dien vir die kind se hoërskoolloopbaan en volwasse lewe.

Geniet u reis deur ons webblad en kontak gerus die skool vir verdere inligting.

Vriendelike Parkiegroete

Henk Pieterse

bottom of page